| | |
Tema: Die gemeenskap van die heiliges.
In ons teksgedeelte lees ons van Paulus se verdere reisplanne. In die uiteensetting van die reisplanne, sien ons wat die gemeenskap van die heiliges beteken. Ons sou baie van dit wat hier genoem word, ook onder die tema “diakonale dienswerk” kon saamvat.
Die gemeenskap van die heiliges beteken meelewing en omgang met mekaar. Paulus wou op sy reis na Spanje vir 'n tyd lank van die gelowiges in Rome “geniet” het (vers 24). Hy weet dat as hy by hulle kom, hy met die volle seën van Christus sal kom (vers 29). Hy wil saam met hulle verkwik word (vers 32). Dit is 'n groot voorreg wat ons as gelowiges het, om met mekaar te kan verkeer, tyd saam te spandeer, van mekaar te kan geniet.
Die gemeenskap van die gelowiges hou ook ondersteuning in waar daar nood is by gelowiges. Paulus is op pad Jerusalem toe in diens van die heiliges daar (vers 25). Gelowiges het dit goedgevind om by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem (vers 26). Nie net die “gee” van ondersteuning nie, maar ook die “ontvang” daarvan is nodig. Daarom vra Paulus dat daar spesifiek daarvoor gebid moet word (vers 31).
Dan beteken die gemeenskap van die gelowiges voorbidding vir mekaar. Daarvoor vra Paulus (vers 30). Hy stel dit selfs sterker: hy vermaan die gelowiges in Rome om saam met hom in hulle gebede te stry. Hulle moet bid vir sy veiligheid in Judea, vir die diensbetoning in Jerusalem en dat Paulus, as die Here wil, na hulle kan kom.
Kyk die aanddiens om 18:00 op Youtube
Liturgie aand:
| | Lofpsalm | Ps 104:1,17,18,20
|
| | Woorddiens | Ps 74:4,5,15,16
|
| | Antwoord | Ps 145:1,5,7,8
|
| | | SB 18-7 (45):1,9,10,11
|
|
Teks: Daniël 9:19 (33/53)
|
| | |
Tema: Vergeef Here, ter wille van U Naam.
Wanneer Daniël lees dat Jerusalem sewentig jaar lank 'n puinhoop sal wees, is daar ongeveer twee jaar van die tydperk oor. Dan is Daniël se reaksie treffend. Hy verootmoedig hom voor die Here. Hy bid nie eerste dat God hulle na hulle land en hulle stad moet laat terugkeer nie. Nee, hy bid dat God hulle sonde moet vergeef. In sy reaksie is dit duidelik dat Daniël God en sy eer in die oog het. Hulle verhouding met die Here was nie wat dit moes wees nie en daarom het die ellende hulle getref. Belangriker nog as dat Jerusalem herstel moes word, was dat hulle verhouding met God herstel moet word.
In sy gebed erken Daniël God se geregtigheid. God het nie onregverdig teenoor hulle opgetree toe Hy hulle aan hulle vyande oorgegee het nie. Hulle as volk het die verbond van die Here verbreek. Daniël bid nie op grond van hulle eie verdienste nie, maar op grond van God se barmhartigheid. Ons sien ook dat Daniël God se saak, sy eie saak maak. Dit is nie tot eer van die Here dat Jerusalem 'n puinhoop is nie. Hy bid dat God ter wille van sy Naam nie moet talm nie.
As kerk van die Here het ons ryke beloftes van God. Daar is ook puinhope in ons kerklike lewe waardeur God nie die eer kry wat Hy moet nie. Daaroor moet ons ons voor God verootmoedig en sy genade soek. As God se saak jou saak is, gaan jou oë oop vir die plekke waar jy die Here se werk in die wiele ry.