Sondag 22 September 2019

Liturgie oggend:

  Lofpsalm: Ps 48:1,4,5
  Geloofsbelydenis: SB 12-3:1,2
  Verootmoediging: Ps 130:1,2,3
  Vryspraak: Ps 68:2,9
  Antwoord: Ps 18:1,9,20
  Teks: 1 Johannes 2:15-17
  Tema: 'n Opdrag oor ons ingesteldheid teenoor die wêreld.
 

Na die bemoedigende pouse (vers 12-14), kry ons 'n ernstige waarskuwing om nie die wêreld lief te hê nie. As kinders van God leef ons in hierdie wêreld, maar is ons nie van hierdie wêreld nie. Met “wêreld” bedoel Johannes nie die skepping of die mense in die wêreld nie. Hy bedoel 'n wêreldse sisteem wat opgestel is teen God; wat in vyandskap met God is.

Waarom moet ons die wêreld nie liefhê nie? Liefde vir die wêreld en liefde vir God, sluit mekaar uit. Jy kan nie albei liefhê nie. Dis of die een of die ander. Die liefde van die Vader is nie in jou as jy die wêreld liefhet nie. “Liefde van die Vader” kan ons op twee maniere verstaan. Dit kan beteken die liefde wat die Vader vir ons het of dit kan beteken die liefde wat ons vir die Vader het. In die konteks hier beteken dit heelwaarskynlik sowel die liefde van die Vader vir ons as ons liefde vir die Vader. Ons sou die Vader nie liefgehad het, as dit nie was dat Hy ons eerste liefgehad het en deur sy Seun verlos het nie. Die vrug van die liefde van die Vader in jou, is dat jy die Vader liefhet en die wêreld nie liefhet nie.

Ons teks noem drie weë of maniere waarop die wêreld ons probeer verlei om dit lief te hê. Dit is die begeerlikheid van die vlees (sondige begeertes), die begeerlikheid van die oë (dinge op sigwaarde as waardevol beskou) en die grootsheid van die lewe (status en roem). Hierdie drie paaie kom nie van die Vader en lei ook nie na die Vader nie.

Daar is 'n vloek aan hierdie wêreldse dinge – dit gaan verby; dit is tydelik. As kinders met die Vader se liefde in ons, wat deur Jesus verlos is, moet ons die wil van die Vader doen en die belofte wat ons het is dat ons vir ewig sal lewe.

Liturgie aand:

  Lofpsalm: Ps 121:1,4
  Woorddiens: Ps 145:1,3,5
  Antwoord: Ps 131:1,2,3
    SB 5-2:1,4,8
  Teks: Romeine 8:3,4
  Tema: Dit het God gedoen
 

Ons teks antwoord die vraag hoe dit moontlik is dat daar vir jou as gelowige geen veroordeling is nie, terwyl jy tog sondig en jou sonde die oordeel van God verdien. Die antwoord is in kort dat God dit gedoen het. God het dit gedoen wat die wet nie by magte was om te doen nie. Die wet wys ons sonde uit en veroordeel ons op grond van daardie sonde, maar die wet kan nie jou sonde wegneem nie. Die wet stel jou ook nie in staat om op te hou sondig nie.

Hoe het God dit gedoen? God het die sonde veroordeel. “Veroordeel” van die sonde sê meer as dat God die sonde net gekritiseer het. Dit sê dat God die sonde skuldig gevind het en die straf daarop voltrek het in die dood van sy Seun. Ons sonde is in Christus veroordeel, aangesien Hy geen sonde van sy eie gehad het nie.

God het dit gedoen. Dit sê vir ons dat die liefde van God ons verlos het van die toorn van God. Jesus het Homself nie tussen 'n toornige God en sondige mense geplaas nie. Dit is nie asof Jesus ingespring het om ons van God te verlos nie. Ons moet nie vir God en Jesus op dié manier teen mekaar afspeel nie. As jy vir Jesus ken, sal jy die Vader ken. Die hart van Jesus is die hart van die Vader.

God het dit gedoen. Hy het die reg van die wet in ons vervul (vers 3). Daarom kan ons en moet ons nou wandel volgens die Gees en nie volgens ons sondige natuur nie.