Sondag 27 Januarie 2019

Liturgie oggend:

  Lofpsalm: Ps 100:1,2,3,4
  Geloofsbelydenis: SB 12-3:1,2
  Verootmoediging: Ps 130:1,2
  Vryspraak: SB 5-2:4,8
  Antwoord: Ps 25:2,4,6
  Teks: Matteus 18:15-20
  Tema: 'n Broer wat sondig.
 

Is die Kerklike tug werklik nodig? Is daar nie 'n ander manier as om uiteindelik daartoe oor te gaan om mense van die Kerk af te sny nie? Is dit nie baie liefdeloos om so iets te doen nie? In ons teksgedeelte lees ons dat die Here Jesus Self aan ons die opdrag gee om tot so 'n stap oor te gaan en dat Hy daarby sê dat alles wat die Kerk op aarde bind, sal in die hemel gebonde wees en alles wat sy op aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees (vers 18 in die 33 vertaling).

Waarom moet daar tot die stap van afsnyding oorgegaan word? Die gedeelte wat ons teksvers voorafgaan vertel van die een skaap wat weggeraak het en wat gesoek en gekry is en oor die groot blydskap toe hy gekry is. Die gedeelte wat op ons teksvers volg, vertel van ons plig om te vergewe. In lyn daarmee gaan dit by die tug en die afsnyding nie daaroor om mense te laat wegraak of om hulle nie te vergewe nie.

Die broer wat gesondig het en wat nie wil luister nie, moet as 'n heiden en 'n tollenaar behandel word. Hy moet as 'n nie-broer behandel word. En hoe is dit? Hoe moet ons mense wat nie broers en susters in die geloof is, behandel? Ons moet hulle behandel as mense aan wie die Evangelie gebring moet word.

Die Here leer ons ook hier dat dit uiters belangrik is dat ons tot Hom moet bid en sy hulp moet verwag, wanneer die tug ter sprake is (vers 19). Die twee wat saamstem en saam bid, is dieselfde twee wat met die broer gaan praat het (vers 16). Die Here verseker ons ook van sy nabyheid wanneer dit gaan oor die moeilike en onaangename saak van die Kerklike tug (vers 20).

Liturgie aand:

  Lofpsalm: SB 2-2:1,3
  Woorddiens: Ps 1:1,2,4
  Antwoord: SB 14-2:1
    Ps 34:1,4,8
  Teks: Filippense 4:11-13
  Tema: Ek het geleer om vergenoeg te wees en is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
 

Paulus bedank die Filippense vir die bydrae wat hulle aan hom gestuur het. Hy maak dit ook baie duidelik dat hy nie net dankie sê sodat hulle nog moes stuur nie. Hy sê nie dankie omdat hy gebrek ly nie, want hy het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin hy is.

Ons raak so maklik onvergenoeg en dan kla ons oor ons omstandighede. Paulus kon ook kla oor sy omstandighede. Tog het hy geleer om vergenoeg te wees. Sy bekering en die teenstand wat hy ter wille van Christus en die Evangelie moes verduur, het hom 'n les geleer. Die pad wat hy geloop het, het hom steeds nader aan Jesus Christus gebring, aan sy liefde en sy krag, aan vergenoegdheid in Christus. Vergenoegdheid is nie iets wat jy vanself het as jy 'n gelowige is nie. Dit is iets wat jy moet leer, waarin jy steeds moet groei.

In vers 13 lees ons: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Wat ook al gedoen moet word, kan Paulus doen, omdat hy in Jesus is, omdat die Gees van Christus in hom woon, omdat hy in 'n noue verhouding met sy Here en Verlosser lewe. Christus se genade is vir hom genoeg. Hierin lê ook die geheim van sy vergenoegdheid.

Om vergenoeg te wees in jou omstandighede, moet jy in Jesus Christus wees. Hy moet die Bron van jou tevredenheid wees. Dan werk jy met die feit dat God oor jou lewe beskik. Jy bely nie net dat God voorsien nie, maar soek geduld in teëspoed en dankbaarheid in voorspoed en jy vertrou God vir die toekoms.