Sondag 25 November 2018

Liturgie oggend:

  Lofpsalm: Ps 146:1,2,4
  Geloofsbelydenis: Ps 36:2,3
  Verootmoediging: Ps 25:3,4,5
  Vryspraak: SB 5-4:1,2,5,6
  Antwoord: Ps 37:2,3,5,17
  Teks: Jeremia 32:15
  Tema: 'n Koopbrief vir die toekoms
 

Op aangrypende manier sien ons hoe God se kinders, selfs in 'n hopelose situasie, uit sy beloftes moet lewe. Dit was oorlog en die Babiloniërs was besig om Jerusalem te beleër. Daarby het die Here reeds bekendgemaak dat die bevolking in ballingskap weggevoer sou word. En tog kry Jeremia die opdrag om die grond te koop en die koopbrief daarvan vir die toekoms te bewaar.

Die koop van die grond en die bewaring van die koopbrief moes uitdrukking gee aan God se belofte van herstel vir sy volk. Ook daarvan het Jeremia geprofeteer. Die ballingskap sou nie vir ewig voortduur nie. Daar sal uitkoms kom en die Here sal sy volk terugbring na hulle land toe en dan sal daar weer huise, grond en wingerde gekoop word. Nou al, in die hopelose situasie, moes Jeremia sy geloof in God se beloftes wys deur die daad by die woord te voeg.

Nadat Jeremia die koopkontrak afgehandel het, is dit asof ons by hom 'n insinking kry (vers 16-25). In sy gebed worstel hy met God en wonder hy waarom die Here hom die grond in sulke omstandighede laat koop het. Hy doen die regte ding deur in die gebed na God te gaan en sy worsteling aan die Here bloot te lê. Die Here antwoord hom ook op sy gebed.

Dit is dan opvallend dat die Here in sy antwoord vir Jeremia dinge sê wat hy in elk geval geweet het. En tog dien dit vir hom tot troos en versterking van sy geloof, want dit is God se antwoord. Ons moet God se almag, liefde en sorg nie net in die algemeen bely nie. Ons moet dit ook glo vir ons besondere omstandighede.

Liturgie aand:

  Lofpsalm: Ps 33:6,7,11
  Woorddiens: Ps 42:1,2,3
  Antwoord: Ps 40:7,8
    SB 7-2:1,2
  Teks: 2 Petrus 3:12,13
  Tema: Leef in die verwagting van die wederkoms, want die Here is getrou aan sy beloftes
 

Uit ons teks hoor ons dat die werklikheid van die wederkoms van die Here nie net vir ons vae toekomsmusiek mag wees nie, maar dat dit betekenis het vir ons lewe van elke dag.

Toe Petrus sy brief geskryf het, was daar spotters wat gesê het dat God nie sy beloftes oor die wederkoms sal vervul nie. Hulle het gesê dat alles nog van die skepping af dieselfde gebly het. In die brief wys Petrus egter daarop dat alles nie altyd dieselfde gebly het nie. Daar was die sondvloed gewees wat die wêreld van destyds oorstroom het, sodat dit vergaan het.

Die feit dat die wederkoms nog nie plaasgevind het nie, moet ons nie laat dink dat God die vervulling van sy beloftes uitstel nie. Nee, daarin moet ons God se geduld sien. Hy gee genadetyd, omdat Hy wil dat almal wat hulle moet bekeer, wel tot bekering moet kom.

Hoe leef ons in die verwagting van die wederkoms? Ons leef in die verwagting van die wederkoms, deur aan God toegewy te lewe. Deur altyd bewus te wees dat ons in sy teenwoordigheid moet lewe en onder die besef van sy heiligheid. Hiertoe stel sy Gees ons in staat.

Om in die verwagting van die wederkoms te lewe, hou ook in dat ons ons daarvoor moet beywer. Alhoewel dit ‘n diep geheimenis is, beteken dit dat ons die wederkoms kan bespoedig of verhaas. Ons kan dit bespoedig deur die evangelie te verkondig, sodat die getal van God se uitverkorenes vol kan word.